If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Berta Rossouw se hart

(As, Berta. Direk met die gehoor, asof sy 'n kunswedstryd-stuk gaan voorstel) Goeiemiddag. My naam is Berta Rossouw. Ek is van Pretoria. Ek bly op my eie... op hierdie stadium... Ek het twee katte en 'n hond en 'n African Grey; sy naam is Robbie. (Dink) Ek is baie lief vir diere en ek werk as 'n volunteer by 'n veearts waar ek hom help om die terminale diertjies uit te sit. Verder hou ek van lees, perdry, die natuur, brei, hekel en ek bak graag.

My gunsteling spesery is arseen en ek het onlangs 'n groot bedrag geld geëerf. Vir die vierde keer.

(As verteller) As Berta se huis kon praat, sou hy baie stories kon vertel. En onder witness protection gewees het. Want Berta het 'n geskiedenis wat baie groot mans sal laat sidder. 'n Geskiedenis waaroor Berta die laaste paar weke skielik skaam geraak het.

(As polisieman oor megafoon) Berta Rossouw! Jou huis is omsingel. Kom uit met jou hande in die lug!

(As verteller) Berta sug en skiet 'n paar skote deur die venster om te tyd te wen. Hoe het sy hier beland? Berta se ma, Ester, het haar van kleins af geïnspireer en gemotiveer.

(As Ester) Dom en lelike mense word nie sommer ouer as dertig nie. Ek wil dit nie oor jou uitspreek nie, maar my geld is op jou suster om die bloedlyn voort te sit. Life insurance is nie 'n slegte idee nie.

(As verteller) Berta het na haar ma se raad geluiter. Toe Ester Rossouw op die rype ouderdom van nege-en-twintig jaar en drie-honderd-vier-en-sestig dae oorlede is, het Berta haar eerste miljoen gemaak. En so het haar loopbaan met dom en lelike en skatryk mans begin.

(As Berta, skreeu) Nog een tree en ek blaas jou kop van jou lyf af!

(As verteller) Gil Berta wreedaardig en skiet 'n sarsie skote in die rigting van die polisiemanne wat haar huis omsingel. Vreemd, vir die eerste keer word haar lewe werklik bedreig, en tog het Berta geen begeerte om iemand dood te maak nie.

Dit alles Regardt se skuld. Aan die ander kant... Berta moet die tekens gesien het. Regardt was nie dom of lelik of ryk of oud nie. En sy het die fout van haar lewe gemaak. Sy het haar hart op Regardt verloor. Die liefde laat mense dom dinge doen. En vir Berta het die liefde laat praat:

(As Berta, angstig) Regardt. Ek is nie wie jy dink ek is nie. Ek is Berta Rossouw, van Pretoria. Ek is eensaam. Was. Voor ek jou ontmoet het. Ek het twee katte, 'n hond en 'n pappagaai met die naam Robbie. Ek is baie lief vir diere maar ek was nooit lief vir my mans nie. Ek was nog nooit lief vir enige iemand nie. Tot ek jou ontmoet het.

Ek hou van lees, perdry, die natuur, brei en hekel en bak graag en ek het my laaste drie mans met arseen vergiftig om hulle geld te kry. (Sy kyk angstig na Regardt)

(As verteller) Berta was op die rand van 'n afrond. En wat Regardt volgende sou sê sou haar of red, of haar laat val en val en val. 'Ek weet wie jy is', sê Regardt saggies. Jy is Berta Rossouw, die moordenaar. Die gif ekspert. Die hoofverdagte in 'n drie-jaar lange ondersoek. Jy kan nie lief wees vir diere of vir lees of vir my nie want jy, Berta Rossouw, het nie 'n hart nie. '

Hy het opgestaan en by haar huis uitgestap. Sy het agter hom aangehardloop. 'Regardt, asseblief. Jy is verkeerd. Ek kan liefhê. Ek was net nog nooit...' (Sy verstar) En toe sien sy dit. Die polisieligte, die panservoertuie. Die swaar gewapende polisiemanne op haar grasperk. En alles word duidelik soos daglig. Ai, Regardt.

En nou is hulle besig om geduld te verloor. Berta skraap haar moed bymekaar, neem haar geweer en staan op. 'n Venster breek! Iemand skreeu! Die wêreld is vol rook! Die deur bars oop. Drie, vier koeëls tref Berta in die bolyf en ruk haar van haar voete af. 'n Voet skop haar geweer weg.

'Jy was verkeerd, Regardt", fluister sy terwyl die bloedkol op haar wit bloesie groter word. 'Jy was verkeerd. Ek bloei (met 'n salige glimlag). Ek bloei Regardt. Ek hét 'n hart', sê sy soos sy haar aan die donkerte oorgee. 

 

Kopiereg © Johann Smith. (Met sy vergunning geplaas.)