If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Onperfek

Jacques was perfek. Heeltemal perfek. Nie die halfhartige perfektheid wat 'n mens dikwels in bogemiddelde skoolkinders aantref nie. Nie die ontvanger van 'n goedbedoelde maar louwarm kompliment nie. Nee, Jacques was in besit van 'n perfektheid waarmee slegs die mees perfekte mense in die wêreld mee kan spog. Geakkrediteer by die Internasionale Assosiasie van Perfekte Mense. Sertifikaat en al.

Jacques se perfektheid het deurgesyfer na alle aspekte van sy lewe. Dit was sigbaar in die heilige trilogie van skoollewe: Akademie, kultuur en sport. In daardie volgorde. Op die sportveld was hy 'n held. Sy drieë, doele en laaste been van aflos het dieselfde effek op die toeskouers gehad as wanneer hy na 'n wedstryd sy hemp uitgetrek het om die resultaat van 'n perfekte gimnasiumprogram ten toon te stel. Sy redenaarstoesprake kon die gehoor van geloof laat verander, vegetariërs laat word of lief maak vir die president. Sy vertolking van Romeo in die skooltoneel het menige jong meisies en 'n paar seun laat hartjies en unicorns in hulle dagboeke teken.

Jacques se akademiese prestasies was selfs meer perfek. Om 'n honderd persent vir 'n toets te kry was sy nuwe gemiddeld. Onderwysers het met plakkate en danspassies by die departementele kantore gaan protesteer vir toestemming om vir Jacques honderd-en-twintig persent vir sy graad elf eindeksamen te gee. Geen feit was vir hom onbekend nie. Geen Wiskunde som te moeilik nie. Jacques was briljant.

Maar nie een van die bogenoemde kon kompeteer met die perfektheid van Jacues se persoonlikheid nie. Hoewel sy voorkoms die term die woord "Griekse God" herdefiniëer het, was dit sy innerlike skoonheid wat die asems weggeslaan het. Jacques het nie 'n voet verkeerd gesit nie. Hy was vriendelik met die lelikste en onpopulêre kinders in die skool. Hy het baba-hondjies uit brandende gebou gered. Hy het nooit 'n lelike woord gesê nie. En selfs sy poep het geruik na laventel en mint met 'n ondertoon van dennehout.

Jacques was perfek.

Tot een dag...

Daar was 'n insident. Iets het gebeur. Iets wat vir die gemiddeldes onder ons miskien nie 'n groot kwessie sou gewees het nie. Iets wat baie van ons doen en net nie oor praat nie. Iets wat slegs die mees skynheiliges onder ons sou laat frons, maar die res laat grinnik voordat ons daarvan sou vergeet. Maar vir die duisende oë wat na Jacques deur 'n vergrootglas gekyk het, was dit die einde van die wêreld. Dit was dié insident wat krake in Jacques se perfektheid gewys het.

En tog... As Jacques moes eerlik wees, was dit 'n verligting. Om perfek te wees is harde werk, veral as jy nie gekies het om die juk te dra nie. Dit vereis baie toewyding en konstante waaksaamheid om seker te maak dat jy aan die groot verskeidenheid verwagtinge van soveel mense moet voldoen. Vir Jacques het die insident die eerste stap na vryheid beteken.

So gou as wat hy kon, het Jacques met die aansoekproses begin. Hy het aansoek gedoen om van sy status as perfekte mens onthef te word. Hy het na die kantore van die Internasionale Assosiasie van Perfekte Mense gegaan en die nodige vorms ingevul. In triplikaat. Perfek natuurlik. Hy het alle nodige dokumentasie verskaf. Hy het bladsye en bladsye motiverings geskryf van waarom hy nie perfek kan wees nie. Sy aansoek was die beste aansoek wat nog ooit ontvang is.

En dit is afgekeur.

Intussen het die teleurgestelde skare onder mekaar begin mor en skinder. Hulle het opmerkings gemaak oor hoe Jacques die beroep van perfektheid skade berokken. Hoe hy nie so wonderlik was as wat almal gedink het nie.

Jacques het teen die bevinding geappeleer. Sy appél is afgekeur. Hy het teen die afkeur van die appél geappeleer. Dit is ook afgekeur. "Jy moet perfek wees, Jacques", was die terugvoer. "Dis wat van jou verwag word".

Intussen het die skare begin soek na klippe om te gooi. Hulle held het hulle teleurgestel en moes gestraf word. Jacques het hom na hoër gesag gewend. Na die direkteur van die Internasionale Assosiasie van Perfekte Mense, maar dié het hom geïgnoreer. Na die premier. Toe na die minister. Na die president! Maar niemand wou hom toelaat om sy perfekte status te verloor nie.

Die ontstelde skynheiliges het met klippe en vrot tamaties in die hand gestaan en wag. Hulle wraak was soos 'n besmette sweer wat in hulle gebrand en gejeuk het. "Ek het nie gekies om perfek te wees nie! Dit was julle! Julle het die perfekte Jacques geskep. Ek was nog altyd feilbaar. Vol foute. Julle was net te blind om dit te sien." Maar niemand luister nie. Die massas het hulle klippe gegooi, dronk op die genotvolle woede teenoor 'n held wat hulle gefaal het. 

 

Kopiereg © Johann Smith. (Met sy vergunning geplaas.)